IN DIE NUUS

 

Hoof van Bybelgenootskap aangestel in top pos by Wêreldbond van Bybelgenootskappe

bod 4

Ds Dirk Gevers, die Uitvoerende Hoof van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) is as die nuwe Direkteur-generaal van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe (WBG) aangewys. Die WBG is ʼn wêreldwye netwerk van Bybelgenootskappe wat in meer as 240 lande en gebiede werksaam is, en hy volg Michael Perreau op na die se aftrede later vanjaar. Hy is die eerste ampsdraer van ’n Bybelgenootskap in Afrika om hierdie rol te beklee.

Ds Gevers het in 2007 sy loopbaan by die BSA begin en is vir die afgelope sewe jaar die Uitvoerende Hoof. “Ons sien duidelik die werk van God se hand in hierdie aanstelling en daar word met verwagting uitgesien na hoe Dirk die organisasie verder gaan ontwikkel en laat groei.” het die Voorsitter van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe se Wêreldraad, Elaine Duncan, gesê. "Dirk is ’n wyse, gerespekteerde en ervare leier. Hy is passievol oor die Bybelmissie én om te sien hoe die Bybel mense se verhouding met God verdiep wat tot lewensverandering lei. Sy omgee hart getuig van ʼn diepgaande liefde tot God en sy medemens.”

Dr Paul du Plessis, Voorsitter van die BSA se Raad van Direkteure, het so op die nuus gereageer: “Ons het gemengde gevoelens. Ons wil ds Gevers gelukwens met hierdie nuwe pos en uitdaging in sy lewe. Ons vertrou dit is deel van God se plan vir beide die WBG asook die BSA. Ons verlies is hulle wins. Ons bid dat die Here hom en sy vrou, Louise, met groot seën en vrug sal gebruik om die Woord regoor die wêreld te versprei.”

Ds Gevers is opgewonde oor die nuwe uitdaging. “Ek is hartseer om van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika afskeid te neem, maar dankbaar vir die vormende rol wat dit gespeel het om my te help om die Bybelgenootskapmissie te verstaan.”

Die BSA se Raad van Direkteure sal eersdaags die aanstelling van ʼn nuwe Uitvoerende Hoof bespreek.